Audioboek vir download
Hierdie storie gaan oor die bytjies wat altyd so besig is. Van douvoordag tot sononder was dit net ʼn gewerskaf. Honderde van hulle, wat op en af en oral oor zoem om die werk vir die dag gedoen te kry. Die koningin van die bye kon sien alles loop nie vlot nie. Daar was maar net nooit genoeg ure in die dag nie. Aan die einde van elke dag was almal pootuit en tog het dit gelyk of daar baie min werk gedoen is.
Toe neem die koningin ’n besluit.
Sy roep almal bymekaar om ʼn vrywilliger te kry wat bereid sal wees om raad te gaan vra by die feetjies, aan die anderkant van die Groot Blou Dam.
Boepie, Bertie en Bassie is die enigste drie wat kans sien vir hierdie allamintige taak wat voorlê. En so vertrek hulle, na deeglike opleiding deur Brutus die kwaai hommelby, met ’n roetekaart op die gevaarlike tog na die Groot Blou Dam.
Gaan die drie brawe bytjies die raad inwin wat die byekoningin hulle gevra het, ondanks al die gevare wat hulle moet trotseer, of gaan hulle langs die pad verlore raak en nooit weer by hulle nes uitkom nie?