81 MB - Lengte: 1 uur 55 minute
DOGTERTJIE MET DIE KOUE ARMS
Hierdie hartverskeurende, dog genesende verhaal beskryf die pad van ‘n dogtertjie se verhouding met ‘n ouerfiguur. Die rol van haar jonger sussie word pertinent in die verhaal geïntegreer. Dit is ‘n verhaal gebaseer op kontrasterende ervaringe, met verrassende kinkels en kabels. Die leser sal meegesleur raak deur die eenvoud, dog treffende beskrywing van die dogtertjie se innerwêreld, en die pragtige impak wat haar ervaringe op haar volwasse lewe het.
IN LIMBO
‘n Mediese spesialis se terugkyk na ‘n loopbaan van 40 jaar. Hy was versot op sy beroep, wat hy as sy passie, sy roeping in die lewe beskryf. Uit die duisende gevalle waarmee hy oor vier dekades te doen gekry het, onthou hy twee pasiënte wat om verskillende redes in sy geheue vasgepen is wat hy nooit sal vergeet solank hy lewe nie. Die menslike, emosionele kant van ‘n mediese spesialis, wat gewoonlik nie aan enigiemand geopenbaar sal word nie, word in hierdie verhaal uitgebeeld. Hierdie is ‘n aangrypende, unieke verhaal wat die luisteraar se aandag sal vasgryp.
INLOER
Die verhouding tussen ‘n moeder en haar mondige seun word in hierdie verhaal uitgebeeld. Hy kom besoek sy ouerhuis, die gesprekvoering tussen hulle twee weerspieël die liefdevolle selfspraak wat sy in haar hart oor hom beleef. Sy besef die losmaakproses wat met moederskap gepaardgaan. Sy herroep die pad van sy geboorte af tot op hierdie oomblik en ook die pad verder, die voorreg om ‘n ma vir hierdie spesiale seun van haar te wees. Baie moeders sal met hierdie verhaal kan identifiseer, dat kinders net geleen is, en nie besittings is nie.
MAN AAN DIE ANDER KANT VAN DIE RIVIER
Hierdie vrou het gehoor van ‘n man wat aan die ander kant van die rivier, wat naby haar klein huisie is, woon. Hy is ‘n baie misterieuse figuur. Jonk, aantreklik, ongetroud. Sy gaan sit elke dag op die oewer van die rivier en kyk of sy hom sien, al is dit net van vêr af, maar sien hom nooit nie. Ander vertel haar dat hy werklik bestaan. Sy probeer telepaties met hom kommunikeer want sy weet nie hoe anders om kontak met hom te maak nie, sy sit dan elke dag by die oewer van die rivier, onder die treurwilgers en hoor die gekwetter van die voëls, en sien hom nooit nie. Gaan sy hierdie aantreklike jongman uiteindelik ontmoet, hom sien, of gaan dit nooit gebeur nie? Vind uit in hierdie aangrypende verhaal, vol misterie en geheimenisse.
ROCK AND ROLL
Hierdie treffende verhaal fokus op die lewe van ‘n vermaaklikheids stêr wat die verloop van sy lewe volg. Die besluite wat hy maak, goeie en slegtes. Die impak wat dit uiteindelik op sy lewe het, beskryf die mooiheid van sy persoonlikheid, te midde van die verkeerde besluite wat hy neem. Hy beleef ‘n ervaring aan die einde van sy lewe wat lewensveranderend is. Hoe aanhangers hom na sy heengaan onthou en sy nalatenskap koester.
SINKENDE SKIP
Meer as ‘n honderd jaar gelede het ‘n legendariese skip onder die oppervlak van die Noord-Atlantiese Oseaan gesink om nooit weer die son op die dekke en passasiers te sien skyn nie. Hierdie treffende verhaal fokus op die innergedagtes, die emosionele ervaringe van beide die drenkelinge en die wat gered is. Die nalatenskap wat hierdie skip op alle belangstellendes, fanatici en kenners tot vandag toe het. ‘n Diep verhaal wat luisteraars vanuit ‘n ander hoek van die tragiese gebeure van hierdie skip sal laat kyk.
SKOONHEID
Hierdie verhaal, deurspek met ‘n tikkie humor, ondersoek die definisie van ware skoonheid. Wat is dit? Hierdie storie is ‘n baie beskrywende, interessante integrasie tussen fiksie en ‘n dieper, amper analitiese dink van die vele fasette van uiterlike en innerlike skoonheid van ‘n persoon. Die skoonheid van die natuur. Hoe lyk die manifestasie van ware skoonheid ? Definitief ‘n moet luister!
UITBLINKER
‘n Akademiese presteerder word in ‘n ouerhuis groot waar finansiële voorspoed afwesig is. Sy ouers oorlaai hom egter met liefde. Hy is ‘n eksentrieke kind, maar staan tog uit. Word op ‘n vreemde manier raakgesien, maar is tog ‘n introvert. Sy persoonlikheid verander namate hy ouer word. Hoe gaan hierdie veranderde persoonlikheid sy toekoms beïnvloed ? Tot die voordeel van die rondom hom of tot hulle nadeel? Luister na hierdie treffende verhaal en vind uit.