“Een keer ’n vettie, altyd ’n vettie.” Nè?
Na ’n hele lewe as ’n vetsugtige persoon, het Mart-Mari Breedt, ’n sagteware-ingenieur en ma van vier, net meer as tagtig kilogram verloor. Haar stryd teen die skaal was massief — op haar swaarste het sy een-honderd-vyf-en-sestig kilogram geweeg. Maar in plaas daarvan om haar nuwe gewig ten volle te geniet, bevind sy haarself toe in ’n skrikwekkende nuwe dilemma: hoe gaan sy dit regkry om haar gewig nou konstant te hou, as sy nog haar hele lewe lank oorgewig was? Sy weet hoe om vet te wees — sy het immers jare se ondervinding daarmee. Om maer te wees was ’n nuwe en uitdagende ondervinding.
In haar ‘krap-alles-oop’-debuutgedenkskrif, vra Mart-Mari moeilike vrae met geen maklike antwoorde nie: Is dit moontlik om ten volle te kan genees van vetsug? Is dit moontlik om ’n gewigsverlies van tagtig kilogram in stand te hou?
Daar is so baie leesstof oor hoe om gewig te verloor — ’n hele industrie is gebou daarom, tog is daar so min, behalwe hou by jou eetplan, bly oefen en hou aan om perfek te wees — geskryf oor hoe om gewig af te hou.
Haar hardkoppige weiering om te aanvaar dat sy maar net weer haar gewig gaan optel, saam met ’n besef dat sy nie vir die res van haar lewe die skaal obsessief kan dophou nie, het gemaak dat Mart-Mari begin skryf het oor haar gewig se instandhouding en uitdagings. Haar skrywery het gelei tot ’n introspektiewe reis waartydens sy baie diep in haar psige moes gaan grawe en baie seer en ou emosies in die gesig moes staar. Op haar reis het sy haar opregte self ontdek, wat nog al die tyd begrawe was in ’n skuldlas van tagtig kilogram.