Willie Vermaas is die erfgenaam van ’n afgeleë stuk grond in die onbekende. Met slegs ’n ou, handgetekende kaart uit die veertigerjare, pak Willie die soektog aan na sy erfporsie.
Met die nuttelose kaart as sy enigste verwysing, kom hy te staan voor ’n kruispad. Waarheen nou? Reguit aan, links of regs? Hy besluit om reguit aan te ry en verdwaal in die donker op ’n onbekende grondpad. Sy bakkie se brandstof raak gedaan.
Hy gewaar ’n lig tussen die digte boomplantasies. Hoopvol vir hulp, bereik hy ’n verlate huis en is getuie van ’n moord wat plaasvind en hy moet vlug vir sy lewe. Vir ure lank is Willie die voortvlugtende van die gewetenlose moordenaar, Carlos en die meesterbrein agter die komplot, Leon de Lange.
Willie word gevange geneem en vasgebind in die huis waar die moord plaasgevind het. Die moordenaar steek die plek aan die brand. Willie slaag daarin om te ontsnap, maar word dan gejag deur op hom te skiet en agtervolg vanuit ’n helikopter.
Na vele lewensgevaarlike ontberings, ontwyk Willie die gewetenlose moordenaar en bereik veiligheid.
Die moordenaar en meesterbrein is egter nog op vrye voet. Vir Kaptein Coenie Steyn van Moord en Roof, berus die taak om die moordenaar en meesterbrein op te spoor.