Ek glo ons het elkeen ‘n eiland in ons gees waar net jy en God kan kom. Dis ‘n eiland waar ‘n mens se rou wonde en eelte naak lê. Dis ook ‘n plek waar God in jou oor fluister en sê dat jou naam alreeds in Sy handpalm geskryf staan en dat jy het wat nodig is om aan te gaan ten spyte van jou omstandighede. Ek glo my ma het so ‘n eiland in haar gees gehad, want hoe anders kon sy aangaan.
Hierdie is my onthou van my ma, dit is haar storie, maar ook ons storie. Ek wil onthou, en ek wil hê my kinders en kleinkinders moet onthou dat sy daar was. Ek glo ons het ‘n plig om te onthou, onthou het ‘n funksie. Ons onthou het ten doel om die herinnering van diegene wat nie meer daar is nie, te koester en die mooi te onthou. Om jou herkoms te onthou en dit aan jou kinders en hul kinders oor te dra. Meer as dit, onthou kan ons help om te genees van die trauma wat verliese meebring.
Ons kan nie bekostig om te vergeet nie, ons moet juis onthou vir hulle wat vergeet.