“Mamma! Mamma!” gil Karla op haar hardste. “Juan wil nie my pop gee nie! Jy is gemeen Juan. Ek hoop jou kop ontplof, jy dink in elk geval te veel van jouself.”
Juan lag, dis vir hom prettig as daardie groen ogies so blits. Hy beter haar pop gee, voor háár kop gaan ontplof. Hy hoor Karla se ma in die gang afkom, gooi die pop neer en maak dat hy wegkom, maar eers steek hy vir haar tong uit.
“Aaarggghh, Mamma!”
Maar dis te laat, hy is lankal weg.
“Wat skree jy so, Karla?” vra haar ma. Sy ken natuurlik die antwoord, net een mannetjie kan haar dogter so ontstel, dis Juan Willemse, die voorman Johan se seun. Hy terg haar graag.
“Dis Juan, Mamma!” Sy huil nou van frustrasie. “Hy wil nie my pop gee nie.”