Hierdie huis stink. Druk haar vas, versmoor haar. Hier moet sy uit! Waarheen? Dit maak nie saak nie. In hierdie huis sal haar flenter hart en stukkende siel nooit genees nie.
Gertjie de Lange gryp hier en daar iets, gooi dit in ’n sak. Los vir die skoonmaakdienste ’n brief en ry in watter rigting ook al haar motor se neus draai. Sy ry en ry en ry. Doelloos en sonder rigting. Baie later bevind sy haar op ’n grondpad. Alles om haar is onbekend. Dis warm en sy is dors.
Teen sterk skemer staan sy voor ’n afdraaipad. Versefraai, hang die naam lewensgroot oor die ingang. Moeg, warm, seer en vol stof besluit sy om in te draai en slaapplek te soek vir die nag.
Is Versefraai, met sy inwoners wat elkeen ook met hul eie porsie verlies, hartseer en pyn het om te verwerk, die plek wat die Here aan haar gegee het om van gister se spoke te vergeet?