Vandat sy kan onthou is Saul in haar lewe. Sy het nooit kon uitvind of hy regtig eers haar pa is nie. Hy het haar soos ’n hond behandel, in die huis aan ’n ketting vasgemaak wat haar net genoeg ruimte toegelaat het om die nodige te doen. Maande lank het sy beplan om weg te loop en hier sit sy nou op die trein, op pad na vryheid.
Sy bid vir die eerste keer in haar lewe. “As U wel bestaan, wees asseblief saam met my.”
Ek was nog altyd, Olga.
Olga spring op. Die stem was so duidelik. Sy kyk benoud om haar rond. Dis egter net die trein se wiele wat om en om onder haar voete draai wat lewe... Sy moes haar verbeel het. Sy lê met haar kop teen die kant van die trein. Die gewieg sus haar en sy verlang na iemand om haar te troos.
Lank gelede het ’n meisie eenkeer vir haar gesê, God is liefde. Diep, baie diep binne haar het sy gesmag na daardie soort liefde.
Maar nou wonder sy: Miskien is dit nie vir almal beskore nie. Miskien kies God wie Hy wil liefhê? Toe leer ken sy vir Fernand...
’n Verhaal van onvoorwaardelike liefde!