Martha Poller

Martha Poller

Vraag

Antwoord

Het jy ‘n bynaam?

Ja. My mense noem my Mart. Die jonger dosente noem my Ms Pollie

Waar woon jy?

Keetmanshoop, Namibië

Watter genre skryf jy in?

Ek weet regtig nie waar om myself te plaas nie. Hagar (my eerste roman) is ‘n Bybel Roman. My bloginskrywings is meestal gegrond op eie ervaring en/of gedagtes

Waar het jy grootgeword en hoe het dit jou skryfwerk beïnvloed?

My pa was ‘n karakoelboer in die Namib Woestyn. Ons het in daardie tyd nog geen tv gehad nie. Die enigste vermaak, behalwe my fiets wat ek bedags gery het, was om te lees tot laat in die nag. Ek glo jy moet baie lees as jy wil skryf – die een vloei uit die ander.

Wanneer het jy eers begin skryf?

Wat is jou nuutste boek en waaroor gaan dit?

Hagar – Die voltooide sirkel. Hagar is die figuur in die Bybel wat deur Abraham en Sara gebruik is om vir hulle ‘n erfgenaam in die lewe te bring. Sy is deur baie swaar in haar lewe en moes letterlik twee maal deur die woestyn om uiteindelik by haarself uit te kom.

Het jy enige boeke gepubliseer wat nie op Malherbe Uitgewers se site is nie, en wat is die boeke?

Ek het baie lank gelede ‘n boekie self publiseer en versprei: Gered onder die wasbak uit. Dit handel oor my oorwinning oor depressive.

Wat beteken jou lesers vir jou?

As ek nie lesers het nie, sal my skryfwerk soos as in die vuur wees – nutteloos en goed genoeg om deur die wind weggewaai te word. Ek waardeer elke leser se kommentaar en terugvoer met my hele hart. Die voordeel van die blog is dat ons direkte kontak met mekaar het op Facebook. Soms lei die op/aanmerkings van een van my lesers juis tot ‘n volgende en ‘n volgende inskrywing op my blog.

Waarmee werk jy aan volgende?

Ek hou my blog in stand. Dit sal uiteraard later ‘n opvolg wees vir ‘Tuiskoms’.

Ek is ook besig met ‘n boek wat handel oor ‘n jong vrou van 37 wat, deur die nalatigheid van ‘n tandarts, nou Parkinson’s het. Dit is ‘n hartroerende, maar uitdagende stuk werk wat baie van my vereis.

Wie is jou gunsteling skrywers?

Te veel om op te noem. Wat ek wel kan sê is dat Annelie Botes die groot dryfveer was agter my eerste boek.

As jy nie skryf nie, hoe spandeer jy jou tyd?

Ek is nog voltyds in diens van The Namibian Institute for Mining and Technology. Ons lei vakmanne op. Ek gee Engels en behartig die biblioteek op die kampus.

Onthou jy die eerste storie wat jy ooit gelees het en die impak wat dit op jou gehad het?

Die Saartjie-reeks wat ek vir my verjaardag gekry het. Dit was asof ‘n hele nuwe wêreld vir my oopgegaan het. Sedertdien het ek nog nooit ophou lees nie.

Onthou jy die eerste storie wat jy ooit geskryf het?

Ongelukkig nie. Ek het baie klein skryfseltjies deur my lewe geskryf, maar ‘n werklike storie? Ek kan nie hierdie een met eerlikheid antwoord nie.

Wat is jou skryfproses? Waar kry jy jou inspirasie vir ‘n storie?

As ek oor Hagar moet praat wat my eerste werklike grote is. Ek het ‘n gebeurtenis gevat en nagevors en geskryf en geskryf. Oor en oor, totdat ek gevoel het ek ‘is nou deel’ van die storie.

My bloginskrywings werk totaal anders. Ek kan nie besluit dat ek nou ‘n slag weer iets moet skryf nie. Dit werk glad nie so met my nie. Iets word so soort van ‘gebore’ in my kop. Dit broei en broei daar totdat ek dan gaan sit en dit met een skryfslag voltooi. Dit kan so min as vyftien minute vat, want alles is reeds in my kop en hart gevestig.

Wat lees jy vir plesier en wie is jou gunsteling skrywer?

Ek lees graag boeke wat gegrond is op werklike gebeure en/of mense. ‘n Voorbeeld is die onlangse Raaiselkind van Annelie Botes. Ek het nie baie sin aan ‘n gewone liefdesverhaal nie en speurverhale lees ek glad nie. Dus, as ek enigsins die idee kry dat dit gegrond is op die werklikheid, het jy my klaar gevang en lees en die boek.

As jy direk met jou lesers kon gesels, wat sal jy aan hulle wil sê?

My situasie is ‘n bietjie anders as die meeste skrywers omdat ek die bloginskrywings op Facebook deel. Ek gesels dus gereeld met my lesers. En ja, hulle weet dat ek hulle ontsettend waardeer!

Ons Kuier op Rus en Vrede

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 273
Release Date 9/8/2022
ISBN 978-1-77632-756-0
Genre Short Stories

Het jy ook al begeer dat jy meer tyd met familie, dierbare vriende en soms sommer net ‘n goeie kennis, deur kan bring? Ek weet jy ken daardie moedelose gevoel wanneer jy besef (of is dit vrees?) dat jy daardie persoon dalk nooit weer gaan sien nie. Vir 'n maand of twee bel jy gereeld en stuur die een boodskap na die ander ... tot jy weer te besig raak en so effens vergeet. Toemaar, moenie sleg voel nie, dis maar hoe ons almal van tyd tot tyd oorkom.

Wel, toe kom die gedagte by my op: Waarom gaan span ons nie almal vir 'n week of wat by Rus en Vrede uit nie? Daar ontmoet ons mekaar en beleef 'n leeftyd se stories so rondom die vuur in die boma.

En wat 'n fees was dit nie om elke skrywer te ontmoet nie – elkeen met sy/haar eie storie van dinge wat met hulle gebeur het, einste op Rus en Vrede! Soms lê ons soos ons lag, soms pink ons 'n traan en ander kere kriewel die ruggraat so 'n bietjie van vrees vir die onbekende. Ons beleef die dood van Johan, die eienaar, se vroutjie, maar dankie tog! Ons woon ook 'n tweede huwelik by.

***

 Anderkant Depressie is daar Lig

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 105
Release Date 1/10/2020
ISBN 978-1-928513-97-1
Genre Educational, Religious

‘n Paar jaar gelede het ek “Gered … onder die wasbak uit!” geskryf en privaat gedruk en versprei. Ek het dit goedgedink om dit te herskryf en aan te vul en op so ‘n manier my dank aan die Here te betoon vir sy voortgesette genade en liefde aan my.

Ek is vry van die hel van depressie. God alleen kry die eer daarvoor. Ek kan geen tree gee as Hy my nie bewaar van die bose nie.
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Efesiërs 6:12-13 – Ou vertaling]

 

***

Die Kleur van My Pen - Tuiskoms

 

Die kleur van my pen 

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 198
Release Date 03/1/2018
ISBN 978-1-928413-65-3

Iemand vra my anderdag waarom skryf ek? Vir wie skryf ek? Met ander woorde, is daar ‘n doel agter my skrywery?

Dis glad nie so ‘n eenvoudige vraag nie, hoor. Dit het my vir ‘n oomblik laat frons, want wat dan nou? Waarom sou iemand so iets vir my vra?

En toe weet ek!

Ek skryf omdat ek, binne ‘n week of twee, eintlik hopeloos verslaaf geraak het daaraan. Dit voel soms vir my die baie goeters in my kop is net eenvoudig te veel en hulle roep, nee hulle skree op my om asseblief uit te kom.

Vir jare en jare het ek goed op papiertjies en toe later op die rekenaar geskryf en gebêre. Op ‘n stadium het ek ‘n boek gehad vir die skryfseltjies, maar dit het ook nie lekker gewerk nie. Waar ek ookal geskryf het, die goed het later verlore geraak. Dit laat ‘n mens so half ‘leeg’ voel, want waar is al die gedagtes dan nou heen?

***

Hagar

Hagar

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 275
Release Date 28/2/2018
ISBN 978-1-928413-70-7

Die storie van Hagar is eintlik maar ons almal se storie. Elkeen van ons het ‘n Hagar, ‘n Abraham, ‘n Sara iewers in ons. Afhangende van hoe ons daarna kyk, kan dit my of jou storie wees hierdie.

Ek wou en ek moes al lankal my eie storie skryf, maar terwyl ek nie die moed het daarvoor nie, sien dan die storie van Hagar as my eie lewensverhaal.

*** 

 

Mooiste meisie van Swakopmund

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 147
Release Date 02/07/2019
ISBN 978-1-928512-30-1

Om lief te hê is niks. Om liefde te ontvang is iets. Maar om lief te hê en liefde te ontvang is alles.

Lees die aangrypende verhaal van Brand en Lisa. Sal die verlede altyd in die verlede bly of sal Brand en Lisa se liefde bly?

***

Vreemdeling

Age group Adults
Book Size A5
Number of pages 262
Release Date 24/3/2022
ISBN 978-1-77632-738-6
Genre Mystery

Hy sit wydsbeen op die man se borskas. Sy vingers boor in die ou man se strot. Hy wag al so lank vir hierdie kans ... “Vrek, bliksem, vrek!”

Petrus skrik natgesweet en verward wakker. Hemel, hoeveel keer moet hy nóg sy pa vermoor? Hoeveel maal moet hy nóg die satisfaksie daarvan smaak voordat dit genoeg is? As die drome net wil ophou ...!

Petrus en Ina Lambert voer ‘n redelik gelukkige huwelik, totdat hy hoor van sy ma se dood. Hy word gedwing om terug te gaan na die dorp wat hy met ‘n passie gehaat het. Opeens lê sy lewe weer rou en seer voor hom ...

Ina het haar eie worstelstryd wanneer Petrus vertrek: Sal hy ooit weer huis toe kom? Wat as hy weer ... Sê nou maar hy doen dit weer? Nee, asseblief tog, Here, net nie dit nie! Help asseblief my Petrus dat hy kop sal hou en huis toe kom as alles klaar is.

Petrus word gedwing om die pad terug te loop tot by die aand wat sy pa gearresteer en in die tronk gegooi is. Dit is die aand toe alles onherroeplik verander het en niks ooit weer dieselfde was nie. Die vredeliewende, vrolike seun raak ‘n verbitterde en opstandige tiener. Hy word groot met die groot vraag in hom: wie is ek regtig?

Wie presies is Christoff Bruinders? Christoff, wat hy, Petrus, nooit kon verdra nie, maar een van die min mense was wat hom getrou in die tronk besoek het.

Waarom het Djoster, sy boesemvriend, hom so in die steek gelaat die aand daar in die donker stegie? Djoster was die een mens aan wie hy sy lewe sou toevertrou en toe is dit juis hý wat soos mis voor die son verdwyn ...

Sal Petrus ooit tot rus kom, en vrede?