Boerseep en Brakwater - Jasper Nieuwoudt

cover_boerseep
5 5 2 Product
R 292,00 each

+

Specifications

Adults
B5
243
22/3/2019
978-1-928512-02-8
Humour

STORIES OOR ’N LEKKER JOB, JAKKALSJAG, TESTAMENTE PERSOONSKAARTE, HOLGOED, OPSIGTERS EN KLOMP ANNER GOETERS, en oor unieke mense en unieke dinge wat sorg vir unieke stories

Die titel van die boek: "BOERSEEP EN BRAKWATER" gee erkenning aan twee lewensnoodsaaklikhede waarmee Namakwalanders noodwendig in my tyd moes klaarkom. Daar is, behalwe die mooi Afrikaans wat daar uit die hart (en nie die teksboek nie) gepraat word, nog dinge wat eie aan Namakwaland is. Twaksboom, kraalbos, oostewind en gousblom is 'n paar, maar boerseep en brakwater het hul eie storie en karakter.

In kort kom dit daarop neer dat boerseep ons enigste kosbare selfgemaakte skoonmaakmiddel was. Jouself, jou klere, jou huis, alles is daarmee gereinig. Dit is in 'n spesiale groot pot, 'n seeppot, gekook met die vet van diere wat gemeng is met die as van die blou gannabos of inkbos, genaamd "asbos". Dit was nog voor die tyd van kostjiesoda ("caustic soda" wat aangekoopte bytsoda is) wat later van tyd die loog en skeidingsmiddel was. Die seep is in ewewydige stene uitgesny, gedroog en vir latere gebruik weggebêre op 'n solder of 'n ander veilige plek. Dit was laaaank voor die tyd van gegeurde of standaard winkelseep, in ons taal genoem "lekkerruikseep".

Brakwater gee homself weg. Die enigste vars waterbron was reënwater wat in "tinke" (watertenks) opgevang is.
Omdat dit ongereeld en min reën, moes die varswatertjies uiters spaarsamig gebruik word. As 'n stout kind met die tenk se kraan sou peuter en die water loop uit, was dit soos dood in die familie. Brakwater was ons ding. Daarmee is kos gemaak, jou dors geles, koffie gemaak, wasgoed gewas en daarmee het jy jouself saam met boerseep gereining. Koffie wat met brakwater gemaak is, het 'n besonder lekker smaak. Tee wat daarmee gemaak is, smaak aaklig. Daarvoor moes die water neutvars wees. As die reënwatertink leeg was, was daar nie tee nie. Nouja, die stories wat ek vervolgens vertel, word dan respekvol opgedra aan hierdie twee onontbeerlike elemente in my vormingsjare.

As ek, soos my vrou, nie 'n Namakwalanner was nie, sou ek nie van boerseep en brakwater geweet het nie.

List of the comments:
No comments have been posted yet.
Vote:

Give your advice about this item:

Username:
E-mail: