Een van die betekenisse van slampamper is om "doelloos of bloot vir die
plesier rond te loop: 'n Mens slampamper langs een van ons verruklike strande of dwaal deur 'n hawetjie" ('Volksblad' 19 September 1958).
Slampamperings hoef nie net altyd voete-op-die-grond ervarings te wees nie. Dit kan ook visuele of geestelike ervarings insluit, en dit het die potensiaal om na groter bewuswording te lei.
"Slampamperpad" is eintlik 'n gedeeltelike outobiografie in vermomming. Dis 'n onsistematies-gerangskikte beskrywing van 'n stuk lewensverloop met groot ruimtes tussen-in. Dit wyk gedurig af van die tipies-outobiografiese verwysing na die self, en sluit ander se lewens in, ander se ervarings, ander se sienings. Meeste lesers mag dalk saamstem dat die genre 'n tipe verwerkte reisbeskrywing is. Die roete is erg kronkelend, maar gelukkig darem besprinkel met skeute humor om elke draai.