Engela de Bruyn oortref haarself met hierdie boek. Dit het 'n misterieuse aanslag!
'n Jong man werk vir 'n hongerloon by 'n ongevoelige baas, wat met onwettige goed besig is. Hy word geskel oor hy 'n kuiergas het, wat hy voorhou as sy "ma." Sy wil hom graag help maar weet nie hoe nie. Die volgende dag, wanneer hy van die werk af kom is sy weg. Hy weet nie wie sy is nie, maar hy weet ook nie wie hy is nie.
Dekanna is 'n heerlike boek om te lees. Dit vertel van 'n jong man wat op vierjarige ouderdom weggeneem is van sy ma. Hy het in verskeie pleeghuise grootgeword, en het presteer op skool, maar was dikwels geboelie. Dit het veroorsaak dat hy ʼn slim en stil outjie was.. Gaan hierdie jongman sy verlede ooit ontrafel, en wat gaan met hom gebeur?
Hierdie boek het my as leser geboei, soms trane laat wegsluk, maar dit besorg ook ligte en ernstige oomblikke. Dit is 'n goeie en lekkerlees boek, wat jou aan die raai hou en meevoer. Die taalgebruik is goed en die storielyn is vloeiend. Die ontknoping en einde van die verhaal sorg 'n verrassende einde.
Ek sal Dekanna aanbeveel vir oud en jonk. 'n Lieflike boek vir jou boekrak!