Die Blou Lantern is vanaand behoorlik gepak. Daar is gaste wat al die pad van Bethlehem en Clarens kom om na vanaand se vertoning kom kyk.
Toe Cariana uiteindelik op die verhoog verskyn met die kollig op haar, is dit so stil dat ʼn mens ʼn speld kan hoor val. Sy het dieselfde blou kostuum aan as waarin Rudolf haar die heel eerste keer gesien het.
“Mamma! Klink die opgewonde stemmetjie van klein Ettienne waar hy op Rudolf se skoot sit. Hy is ʼn jaar en vyf maande en baie glad met die bekkie.
Die musiek begin polsend, meesleurend, en Cariana se slanke liggaam begin beweeg toe sy haarself optrek om in die een posisie na die ander optrek. Elkeen wat haar sien weet dat sy ʼn groot talent het vir paaldans.
Toe sy uiteindelik klaar is, kry sy ʼn staande ovasie wat sy met ʼn ligte buiging erken. Rudolf hou Ettienne uit na Pieter, wat langs hom sit. “Hou gou ʼn ogie asseblief?”
Pieter loer met ʼn vonkel in sy oë na Linda terwyl hulle na hulle oulike peetkind kyk. “Hoe lyk dit, kan ek so ʼn paal in ons kamer laat installeer?” fluister hy tergend.
“Baie oulike idee,” fluister sy terug. “Ek sal dol wees om jou dop te hou terwyl jy vir my dans.”
“Ja, slim, mevrou dominee. Die idee is dat ek jóú dophou.”
Linda loer skrams na hom. “Dit sal ʼn bietjie moeilik wees.”
“Hoekom?” vra Pieter fronsend......