Dis ‘n ander tien minute later toe sy haar handbagasie in die rak bo haar kop inprop en salig in ‘n sitplek teen die venster terugsak, en met die sagte musiek in haar ore, haar oë sluit. ‘Hoeveel keer het moeder nie in gesprekke haar kommer teenoor my uitgespreek nie’ dink sy terwyl die lugwaardin haar passies voor in die gang uitvoer. “Nonnie” het sy elke keer dieselfde klagte gehad “Nonnie, my kind, jou Pa tree snaaks op. Hy vat koers en dan bly hy net weg. Nou die dag het hy te voet hier aangekom. April het die bakkie te perd agter die rooi duin in die Gemsbok kamp gekry, naby die keuringsgebied se draad” beleef sy weer haar ma se gesprekke wat male sonder tal voor haar gelê is, maar sy wou nie luister nie.
“Ek wil nou nie spoke opjaag nie, maar hy raak ongeskik en humeurig. Ek weet nie of hy dalk moeg is vir my nie” gaan sy dan voort. “Ag nee mammie, jy verbeel jou sommer” sou ek dan keer, ook maar bang vir wat ek hoor’ maal haar gedagtes. ‘Maar toe sy die dag vir my vertel dat hy my met n meisie op skool verwar, moes ek haar stories meer ter harte geneem het. Maar nee, Elaine, jy was te besig met jou eie lewe. Hoeveel kinders steur hulle mos nie aan hulle ouers se wel en wee nie. Te besig met hulle eie dinge.’