Die Malherbe Skrywers het hulself weereens oortref met hierdie spogbundel. 19 unieke Afrikaanse stories wat jou emosies laat wipplank ry.
Jy lag dat die trane rol, wanneer Sussa die gerammel van die takke wat skoorsoekend kap-kap teen die sinkplaat van hulle nuwe huisie, nie nog ’n enkele nag kan deurstaan nie. Sy skuif haar uitermatige vrees vir hoogtes opsy en durf die bron van haar frustrasie op die boonste sport van ’n leer aan, ten aanskoue van die dominee en sy ouderling.
Een van die stories laat jou maar swaar sluk aan die knop in jou keel, wanneer ’n mamma hoor haar kanse is maar skraal dat chemo dié keer gaan help, en sy om daardie rede verdere behandeling weier. Haar seuntjie wat vol vertroue na haar opkyk, laat haar besef: sy sal enigiets doen om daardie blydskap in haar klein seuntjie se oë te sien. Dit gee háár weer hoop, hoop wat sy lankal verloor het.
In die bundel is daar ook ’n les of twee te leer. Soos die storie van Ma Kietie. Sy hou die Malan-huishouding se leisels in groot, sterk geoefende hande vas. Haar tong slaan soos ʼn sweep as sy hierdie Malantjies dril. Maar bewaar die een wat met haar kinders mors. Dit het die skoolhoof op die harde manier geleer.
Maar skaf gerus hierdie bundel aan as julle meer wil weet wat alles hierbinne gebeur.