Dreigend staan die swart silhoeët in die verte met mis wat spookagtig uit die aarde trek. Viazma, ‘n ou asylum, met al sy geheimenisse en wreedhede weggesteek in ‘n diep donker woud.
Die tweeverdiepinggebou het honderde vensters wat dreigend na die woud staar. Rondom die gebou is geen gras of blomme nie, net strak swart grond en hier en daar ’n boom wat eensaam en uitgedroog staan.
Niemand mag weet van haar geheime nie. Wat alles binne haar bose hart aangaan nie.
As jy eers oor haar drumpel getree het en haar giftige asem in jou nek gevoel het, is daar geen uitkoms vir jou nie. Soos legendes lui: As jy een oggend in Viazma opstaan en die bed langs joune is leeg – beteken dit nie die persoon is ontslaan nie…