Wie ek is...
Ek ís Mental Illness volgens die wêreld (nee ek hét dit nie) en ek gebruik doelbewus die Engelse terme, want dit gee die wêreld die reg om 'n stigma te koppel aan persone wat aan die een of ander geestesiekte lei. Te veel keer moes ek ervaar hoe meeste mense hulle rûe op jou draai as jy in daardie bodemlose put verval, of as jy manies raak. Al verduidelik jy vooraf en verskaf selfs 'n DVD om jou toestand te verduidelik, bly jy maar elke keer agter met bitter min ware vriende aan jou sy wanneer jy uit die donker put kruip. Niemand stel werklik belang wanneer jy na die tyd om verskoning vra vir jou gedrag nie. Dis baie makliker om jou te veroordeel as om te probeer verstaan waardeur jy gaan, of selfs om jou te vergewe.
Hierdie is nie gedigte oor wat in my gedagtes aangaan nie, eerder is dit gedigte oor oorloë teen die monsters in my kop. Dit is amper asof ek wil sê dit is 'n universele digbundel vir almal wat aan PTSV, depressie of enige geessiekte ly, elkeen het net sy eie monsters.